Ontstaan
Ons is sedert Augustus 2009 deel van die Uitdraai Boerderyspan. Ons het in 2011 met 10 jong verse begin boer, hulle dragtig gemaak en in 2012 weer verkoop. Ons het kommersiële diere van Leehan- en King’s Heath Bonsmaras gekoop en hulle laat loop op huurgrond in Fauresmith.
Omdat ons n passie vir beeste het, het ons besluit om met n stoet te begin. Orffer Muller, eienaar van Uitdraai Boerdery, het ons die geleentheid gegun om ons beeste op die plaas aan te hou. Hy het al ons vroulike, kommersiële diere oorgekoop sodat ons in 2013 by Kruger Bonsmaras vir ons geregistreerde vroulike diere kon aankoop om Van Jaarsveld Bonsmaras in November 2013 te registreer. Ons begin ons stoet met 23 koeie en 1 bul.
In 2014 begin ons ‘n vennootskap met Orffer Müller om die stoet uit te brei. Dit het die bestuur van die bees vergemaklik. Oktober 2014 bied ons koeie aan vir basiskeuring en vergroot die kudde na 86 koeie. Ons verkoop ons eerste bul in Oktober 2015 aan Mnr Okkie Liebenberg.
Huidig
Die kudde bestaan huidig uit ongeveer 250 diere, waarvan 120 koeie en dekbare verse is. Ons gebruik bulle van Frikkie Kruger, Paul Mare, JJ Park en Arthur de Villiers. Ons maak ook gebruik van Martiens Aveling se dienste vir advies.




Omdat ons langs die Oranjerivier geleë is en weiding tot ons beskikking het loop ons bees in die veld tot net voor kalftyd; die bees kom dan in om op die weidings te kalf en herbeset te raak. Dit help ook om die bestuur te vergemaklik.
Die buiteveld is gehard en bestaan uit redelik baie rantjiesveld. Reënval beloop tussen 200-250mm gemiddeld per jaar en ons drakrag is 29ha/GVE, daarom maak ons gebruik van Riaan Dames se weidingsprogram om ons weidings te verbeter. Ons rus die helfte van die veegrond vir n jaar en bewei die ander helfte en wissel in Augustus . Die plaas bestaan uit 3500ha waarvan 400 ha besproeiing is. Ons produseer hoofsaaklik mielies, koring, lusern en saaduie en 10ha aangeplante weidings.
Vooruitsigte
Ons missie is om, ten spyte van ons klein stoet, steeds bo-gemiddelde diere van uitstaande gehalte in die mark te bring en ook n goeie na-verkope diens aan ons kliënte te lewer.
Ons beoog nie om die stoet huidig uit te brei nie, maar eerder te verbeter.
Bulle aangebied op 14 September 2018 veiling












